Followers

Wednesday 12 September 2012

Sport is 'n moet by skole


Mnr. Fikile Mbalula, minister van sport, gaan saam met die departement van basiese onderwys 'n reuse-poging aanwend om skolesport te gebruik sodat transformasieteikens in sport bereik kan word.

Mbalula se plan is om "van onder af boontoe" te werk deur sport verpligtend te maak by al 30 000 skole in Suid-Afrika.
Sy departement sal onderwysers self oplei om sport af te rig en "die verantwoordelikheid nie bloot op die onderwysdepartement" plaas nie.

Mbalula wil teen einde Mei 'n transformasie-oudit hê van skolesport, asook hoe sportfederasies transformasie die afgelope 17 jaar hanteer het.

Die minister het Dinsdag gesê hy gaan saam met die departement van basiese onderwys 'n "massiewe skolesportraamwerk" bekend stel om jong, talentvolle sportsterre in veral plakkerskampe en plattelandse gebiede te vind, maar ook in model C- en privaat skole.
Mbalula, wat eersdaags die kwotastelsel met 'n transformasiehandves wil vervang, meen skolesport behoort nie 'n buitemuurse aktiwiteit te wees nie.

Die nuwe skolesportprogram gaan soos ligas wees, maar met toegewyde personeel wat 'n gepaste kurrikulum volg, het Mbalula gesê. "Ons gaan terug na fantastiese Woensdae en Saterdae waar sport die fokus in skole sal wees om ons ontwikkelingsagenda en -belange te bevorder."

Hy wil sien dat skolesport met sportfederasies en talentsoektogte verbind word, veral wanneer dit by die kies van nasionale sportspanne kom.

Die doel van die skolesportraamwerk se soektog na jong talent is om ongelykhede in geleenthede en ontwikkeling in sport oor die laaste 17 jaar te herstel. Die ontwikkelingsmodel moet toesien dat talentvolle kinders deur 'n stelsel gaan wat meer deelnemers oplewer vir kompetisies en die Olimpiese Spele, het Mbalula gesê.

'n Deel van dié plan is om 100 sportsentrums oor die hele Suid-Afrika te bou by skole wat geen geriewe het nie.
Mbalula het gesê besonderhede soos die kurrikulum, personeel, opleiding van onderwysers en afrigters moet nog gefinaliseer word.

Volgens me. Hope Mokgatlhe, woordvoerder vir me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal dié departement Mbalula inlig oor hoe sport in die kurrikulum geïnkorporeer kan word.

Mnr. Paul Colditz, nasionale woordvoerder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê dit is 'n "verbeeldingryke plan", maar die probleem is die finansiering daarvan.
"Tans kry skole geen geldelike steun van die staat of federasies vir sport, toerusting of toernooie nie. Die ouers betaal."

Mnr. Paena Galane, Mbalula se woordvoerder, het gesê die geld moet van die Nasionale Lotery en donateurs kom.

No comments:

Post a Comment